Vlug Pryse

Afrikaans is die taal van my hart

Warmlugballonvaarte in Suid-Afrika

LUS om sorgeloos en vry in die saffierblou lug daarbo te sweef in 'n warmlugballon? Om van horison tot horison soos in 'n droom oor die aarde te gly met asembenemende tonele onder jou? Voltooi net die vorm hieronder as jy graag so 'n onvergeetlike vlug wil beleef. Jy kan kies of jy jou heuglike ballonvaart wil onderneem in Hartbeespoort, die Wieg van die Mensdom, Hoedspruit of selfs die Pilanesberg Nasionale Park - pryse verskil afhangende van waar jy vertrek:

Jy ervaar algehele kalmte en vrede terwyl jy heenbeweeg oor van die mooiste vergesigte wat ons land kan bied met niks anders wat die rustigheid kan versteur as die gesis af en toe van die ballon se hitsige branders bokant jou nie.

Kosmos Village, Hartbeespoort Dam from a hot air balloon

Wie mag vlieg?

Daar is geen ouderdomsbeperkings ten opsigte van wie die ballonvaarte mag geniet nie, maar passasiers moet ten minste 1,2 m lank wees (lank genoeg om bo-oor die rand van die mandjie te kan kyk), in staat wees om sonder hulp in en uit die mandjie te klim, sterk genoeg wees om die hele tyd gedurende die vlug op hul voete te bly, en hulle moet op die hurke kan sit wanneer die ballon land. Ons beveel aan dat verwagtende vroue nie vlieg nie. Kinders moet deur 'n volwassene vergesel wees. Vertel ons asseblief as enigiemand aan toestande soos asma of diabetes ly, of bang is vir hoogtes.

Die vlug

Vir alle ballonvaarte in Suid-Afrika word dagbreek as die ideale tyd beskou om op te styg, omdat dit die enigste tyd is wanneer die lug stabiel is. Nadat die ballonvlieer (of piloot of pilot soos die Nederlanders en Engelse hom noem) sy passasiers oor die veiligheidsmaatre?ls ingelig het, styg die ballon op. Die vlug duur dan gewoonlik sowat 'n uur, afhangende van die winde en beskikbare landingsplekke. Jy sal doelloos bokant die aarde sweef en heengevoer word na waarheen die wind jou ook al neem. Dit maak elke vlug 'n unieke belewenis.

Tydens elke goeie vlug sal die vlieer die ballon laat klim vir beter uitsigte, rakelings oor 'n paar boomtoppe skeer en, as hy dapper genoeg is, self 'n maneuver probeer uitvoer waar die mandjie iewers aan 'n plaat water of 'n watermassa raak en dan weer opstyg ('n sogenaamde "splash 'n dash").

Jy kan een van twee soorte landings te wagte wees: (1) 'n sagte neerstryking waartydens jy skaars agterkom dat julle geland het, of (2) 'n iewat vinniger landing wanneer die mandjie moontlik 'n paar meter ver oor die grond gesleep word voordat dit tot stilstand kom. Altwee hierdie landings is heeltemal normaal; alles hang eenvoudig af van die bui van die ewig wispelturige wind op daardie oomblik.

Die herwinningspan sal die ballon van die grond af volg en gereed wees om jou by die landingsplek met 'n tradisionele sjampanje-heildronk en koue drankies te begroet. Wanneer jy gereed is, word jy terug begelei na die lanseerplek vir 'n gesonde tot stewige ontbyt, waarna jy met 'n sertifikaat vir jou prestasie vereer sal word. Vir nog inligting kan jy ons beskrywing van 'n ballonvaart by Hartbeespoort lees.

Geskenkbewyse vir warmlugballonvaarte is die voortreflikste present. Die beste manier om vir warmlugballonvaarte te betaal, is om dit in die vorm van geskenkbewyse te koop. Wanneer jy die besprekingsvorm invul, noem dit net dat jy graag sulke bewyse wil he.

Wat om aan te trek

Dra doodeenvoudig die klere waarin jy die gemaklikste voel. Dit is raadsaam om klere oormekaar aan te trek wat jy straks weer stuk-stuk kan uittrek. Die rede hiervoor is dat dit nogal geniepsig koud by die lanseerplek kan wees, maar sodra jy in die lug is, sal jy verbaas wees oor hoe warm dit is, veral onder die ballon se branders. Slenterdrag en plat skoene is ideaal, en natuurlike vesels is verkieslik bo sintetiese vesels. Moenie nylon dra nie. Jy sal miskien 'n hoed waardeer wat jou kop teen die hitte van die branders kan beskerm. Moenie vergeet om jou kamera en verkyker saam te bring nie.

Ballonvaart-opsies in Suid-Afrika

In Suid-Afrika het ons geen gebrek aan plekke om van te kies as ons die omgewing vanuit 'n ballon in die lugruim wil verken nie. Ballonvaarte word aangebied in Gauteng, Kaapstad, die Pilanesberg, die Vrystaat, die Drakensberg en tot in die Noord-Kaap.

Ballonvaarte by die Wieg van die Mensdom

Die Wieg van die Mensdom is 'n werelderfenisgebied van 47 000 hektaar waar oerfossiele in die beroemde Sterkfonteingrot gevind is. Besoek die besoekersinterpretasiesentrum by Maropeng.

Warmlugballon by Hartbeespoort

'n Warmlugballonvaart by Hartbeespoort kan beteken dat jy oor die dam sweef en die pragtige tonele sien waarvoor dit bekend is (hoewel dit natuurlik afhang van uit watter rigting die wind waai). Bill Harrop het in 1981 warmlugballonvaart na Gauteng gebring.

Ballonvaarte by Pilanesberg

Wanneer 'n mens in ballonne oor die Pilanesberg sweef, beleef jy die unieke ervaring om oor 'n nasionale park te vlieg.

Ballonvaarte by Kaapstad

Die plekke waar warmlugballonne in Kaapstad opstyg, wissel na gelang van die windrigting op die bepaalde dag. Een van die lanseerplekke is Joostenberg Bistro en tuinsentrum aan die N1 na die Paarl, en 'n ander is aan die N7 na Malmesbury. Ballonvaarte word in die Kaap slegs in die somer onderneem, en weens die wisselvalllige Kaapse weer hang dit dan ook grootliks van die luggesteldheid af.

 



Ons taal kook; en so kan ons ook. Kom ons praat die taal en lag in ons eie Afrikaans.

Afrikaans is lekker op die tong

comments powered by Disqus