Vlug Pryse

Bespreek jou vlug nou

Om hierdie webwerf in Engels te lees kliek hier.
Vra hulp - ons help jou graag.

Skywise Lugredery

LET WEL: Skywise bied nie huidiglik vlugte aan nie.

Skywise is Suid-Afrika se jongste laekoste-lugdiens wat op die 26ste Maart 2015 begin het om vlugte tussen Johannesburg en Kaapstad aan te bied. In November 2015 het die lugredery se finansiële probleme bekend geword, maar die lugredery het voortdurend politiese inmenging geblammeer vir hulle teëspoed. Weens gebrek aan betaling aan ACSA vir die gebruik van hul lughawens het ACSA hulle verbied om gebruik te maak van die lughawens.

Die lugredery het voortdurend politiese inmenging en bevooroordeling van staatslugredery blammeer vir probleme wat hulle nooit onder beheer kon bring nie. Skywise is steeds in besit van hulle vlieglisensie. Die lugredery benodig beleggers wat hulle ACSA skuld kan aflê voordat hulle weer vlugte kan aanbied.

Weens administratiewe probleme het hul eerste probeerslag in Oktober 2013 ook onsuksesvol gewees. Julle weet wat hulle sê van die derde probeerslag!

Die lugdiens is die geesteskind van die 1time-stigters Rodney James, Glenn Orsmond (gewese uitvoerende hoof van 1time) en Michael Kaminski (voorheen 1time se IT-hoof), asook Johan Bortslap (wat Sun Air se besturende direkteur was). Wayne Duvenhage (voormalige hoof van Avis Suid-Afrika) was ook betrokke by die lugdiens. Hulle is egter nie meer betrokke by die lugredery nie. Hulle het al hulle aandele verkoop aan Pak Africa en die besigheid verlaat.

 

Nuus

  • 2 April 2016: Ten spyte van 'n gebrek aan dienslewering weens finansiële probleme vanaf November 2015, is die lugredery nog nie insolvent verklaar nie. Skywise passasiers wat geaffekteer is deur die kansellasie van vlugte kan aansoek doen om 'n terugbetaling vanaf Skywise op hul webtuiste. Die lugredery hou vol hulle gaan binnekort weer vlugte aanbied, alhoewel die sukses daarvan twyfelagtig is.

  • 22 Januarie 2016: Die Mededingingskommissie het Skywise se klagtes teen ACSA vandag aangehoor en besluit teen Skywise dat ACSA nie onregverdig opgetree het toe hulle Skywise verbied het om gebruik te maak van hul lughawens nie. Alhoewel SAA 'n langer tydperk het om skuld af te betaal, weet ACSA dat die Staat sal instaan vir enige tekortkominge. Dieselfde kan nie gesê word van Skywise nie.

  • 12 Desemeber 2015: Duisende Skywise passasiers is teleurgesteld deur die lugredery se skielike kansellasie van al hul vlugte verlede week. Ten spyte van Skywise se pleite wat meestal gerig is aan SAA en die Staat, is geen verdere reëlings getref om hulle te akkommodeer nie. Vlugte in Desember-maand op hierdie besige roete kan enigeiets tussen R1000-R2000, of selfs meer, kos aangesien dit boonop ook nog kort voor die vertrekdatum is. Intussen het die Lugdiens Lisensiëring Raad beslis dat Skywise wel hulle lisensie mag behou.

  • 3 Desember 2015: Skywise moes vandag al hulle vlugte kanselleer weens finansiële probleme. ACSA het hulle reg om gebruik te maak van hulle lughawens opgeskort weens wanbetaling. Sodra die lugredery hulle uitstaande betalings maak, sal ACSA hul weer toelaat om gebruik te maak van hulle lughawens. 'n Brief gerig aan die President om vir bystand te vra het geen effek gehad nie. Die lugredery het reeds vir die afgelope twee maande probleme ondervind en moes gereeld vlugte kanselleer, met verskeie redes wat aangebied is.o-11 November 2015: Te midde van nog gekanselleerde vlugte, het mede hoof uitvoerende beampte Irfan Pardesi vir Skywise verlaat. Sy kleurvolle rede hiervoor som op presies hoe die top bestuur van die lugredery hulle finansiële drama aanskou; "die politieke drama was meer Bollywood as Hollywood." Na aanvoer van die probleme wat die lugredery in die gesig staar, klink dit na die minste daarvan.

  • 21 Oktober 2015: Skywise het hulle daaglikse vlugte tussen Kaapstad en Johannesburg verminder vanaf 8 tot 6, met die doel om met voller vliegtuiens te vlieg.

  • 13 Oktober 2015: Skywise moes vandag twee vlugte tussen Kaapstad en Johannesburg kanselleer. Geen rede is aangevoer nie, maar gerugte van finansiële probleme is afgeskryf.

  • 11 Februarie 2015: Skywise kaartjieverkope oopgemaak op hulle JNB - CPT roete. Die lugredery se pryse begin by R498* vir 'n enkel roete vlug. Daar sal geen ekstra koste wees vir bagasie nie. Die lugredery het gese dat hulle beplan om ook tussen Johannesburg en Durban te begin vlieg binne die volgende 3 maande.

Vlugroetes

Skywise gaan tussen Kaapstad en die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe te vlieg. Vir later word vlugte na Durban, Oos-Londen en Port Elizabeth beplan. Van die einde van Maart 2015 af wil Skywise met vyf daaglikse vlugte van Johannesburg se O.R. Tambo-lughawe na Kaapstad begin, met twee Boeing 737-300's (die een in die Kaap gestasioneer, die ander een in Johannesburg).

 

Skywise se eerste Passasiers

 

Ou Nuus

  • 12 Sept 2013. Garage East berig dat Skywise gereed is om in Oktober 2013 met sy vlugte te begin.

  • 23 Jul 2013."Ons dink steeds dat ons in Augustus sal begin, maar wil nie ons deure oopgooi totdat ons heeltemal seker is nie" – Rodney James (ons vertaling).

  • 17 Mei 2013. Rodney James in 'n onderhoud met die SAUK "Daar's op die oomblik 'n enorme vraag. As jy na die teenswoordige kaartjiepryse kyk, blyk dit dat hulle oor die afgelope vyf of ses maande met meer as 40 of 50 % gestyg het. En die mark het gekrimp. Gevolglik moet ons met 'n bietjie sterk mededinging vorendag kom. Verlaag daardie vliegtariewe met waarskynlik tot 25 % en laat die mark dan weer groei." (ons vertaling)

  • 7 April 2013. Wayne Duvenhage, voormalige bestuurshoof van Avis, terwyl hy op 567 Cape Talk deur Kieno Kammies oor Skywise uitgevra word: "Konvensionele lugrederye kry inderdaad swaar, maar laekoste-lugdienste om die wêreld is baie suksesvol, en dit is wat ons hier wil wees,'n ware laekoste-model. Met die sakeplan het ons 'n meevaller gekry, en ek kan u verseker dat ons nie 'n onderneming wil begin wat gaan misluk nie. Ons het baie vertroue in die sakeplan, en ons het die B7370-300's wat baie meer brandstofdoeltreffend as die 1time-vloot is. En ons het 'n sterk span wat dit kan bestuur as 'n laekoste-onderneming met hoë diensstandaarde en wat 'n groot sukses daarvan kan maak. Daar is nie genoeg vliegtuie nie, daar is nie genoeg sitplekke nie, en dit is hoekom die pryse lyk soos hulle lyk. Ons wil waarborg dat pryse sal daal wanneer ons die mark betree. 'n Mens smee die yster solank dit warm is. Daar is drie lugdienste wat onlangs die mark verlaat het - Nationwide, Velvet Sky en 1time. Daar's dus 'n groot gaping. Ons is reeds byna 'n jaar lank besig om hieraan te beplan, sedert Mei verlede jaar - Rodney en Glenn en Mike het hul ou planne afgestof en die regte inligting in nuwe planne ingevoer, en dit is baie, baie haalbaar en volhoubaar. En wat ons dié slag doen, en die banke waarborg dit, is dat ons slegs betaal word per voltooide vlugte, waardeur mense se geld beskerm word; ons het ons model op daardie kontantvloei-basis gegrond, in teenstelling met die verlede waar lugdiense sou funksioneer met geld wat ingesamel is, maar nog nie aan vlugte bestee is nie, en dis 'n gevaarlike toedrag van sake. Dit gaan ons nie doen nie. Ons geld wat ingesamel word vir vlugte wat nog oor twee, drie maande moet plaasvind, word nie aan ons vrygestel nie. Gevolglik is mense se geld veilig. Dit gaan nie een van daardie lugdienste wees wat ondergaan en niemand word betaal nie. Ons beplan egter nie om onder te gaan nie, en dis hoe ons die model gebou het. Hier is dus 'n waarborg. En ons moet seker maak dat die kontantvloei-model korrek werk." (ons vertaling)

  • 4 Maart 2013. Die Raad vir Lugdienslisensiëring ken 'n lugdienslisensie aan Skywise toe. Die volgende stap is om 'n vlugoperateursertifikaat van die Burgerlike Lugvaartowerheid te bekom.

  • 1 Maart 2013. Rodney James kondig aan dat Wayne Duvenhage, die gewese bestuurshoof van Avis Suid-Afrika, hom by Skywise gaan aansluit as sy bestuurder van kliëntedienste, verantwoordelik vir lughawens en kontaksentrums: "Wayne sal verantwoordelik wees vir die implementering van 'n kliëntediens-verhoudingsprogram om te verseker dat ons nie net die voorste kliëntediens het nie, maar een van wêereldklas wat gemeet kan word. Ons het 'n swaargewig nodig wat die omgewing ken en dit reeds met kliëntediens vermag het. Dit is een ding om van kliëntediens te praat, maar om te begryp hoe om die beste word, is 'n totaal ander saak."

  • 1 Februarie 2013. Rodney James deel mee dat hulle nie in staat sal wees om die onderneming in Maart 2013 van stapel te laat loop nie: "Die begin van Maart was ons teikendatum in die veronderstelling dat 'n lugdienslisensie in die begin van die jaar aan ons uitgereik sou word. Sodra die lugdienslisensie aan ons muur hang, sal ons 'n ander aanvangsdatum as teiken stel." Tiyani Rikhotso, woordvoerder van die Department van Vervoer, het gesê dat "die raadsvergadering van 16 Januarie 2013 die aansoek van Cobolar/Skywise oorweeg het. Die raad het nog nie oor die aansoek besluit nie vanweë die bykomende inligting wat van die aansoeker vereis word ten einde 'n besluit te kan neem."

  • 28 November 2012. Glenn Orsmond word as volg aangehaal: "Ons het 'n geleentheid in die mark vir 'n laetariewe-lugdiens geïdentifiseer. Vliegtariewe is weer baie hoog; daar was 'n dramatiese verhoging van pryse. Ek is vol vertroue dat ons die vermoë het om 'n lugdiens te bestuur (in hierdie toestande). Dit is 'n wonderlike soort besigheid en daar is 'n paar dinge wat ons anders kan doen as die ander lugdienste. Toe ons met 1time begin het, was daar 'n geleentheid vir laekoste-vlugte en ses uit sewe jaar het ons 'n wins verklaar. Dis 'n jammerte dat 1time nie meer daar is nie. Al die lugdienste het te kampe met werklik hoë kostes. Comair kom met 'n nuwe vloot wat biljoene gaan kos en hulle sal die geld moet kry vir daardie skuld, en dit sal hul kaartjiepryse onder druk plaas. Ons het die SAL se probleme gesien, en 1time moet ook hoë kostes die hoof bied. Ek is nie seker of 1time sy voorlopige likwidasie sal oorleef nie."

  • 5 Oktober 2012. Rodney James, die vorige hoof- uitvoerende beampte van 1time, doen aansoek om 'n lisensie om 'n laekoste-lugdiens te begin. Hy doen aansoek deur Cobolar (Edms.) Bpk. (hoewel daar gereken word dat 'n ander naam later gekies sal word waaronder die beoogde lugdiens sal sake doen).

 

Skywise se Vorige handelsmerk- en bemarkingstrategie

Skywise het besluit dat sy handelsmerk deur minimalisme gekenmerk moet word ("minder is meer"), nie net om hom te onderskei van die lugdienste Mango en Kulula (met hul helder groen en oranje kleure) nie, maar ook om die koste laag te hou. In aansluiting by hierdie minimalistiese tema, wil Skywise ook minder aanbied (vermoedelik net vlugte en nie veel ander dinge nie), ook in teenstelling met Kulula en Mango, met hul aanbiedings van motorhuur, lojaliteitslidmaatskap, verskillende reisklasse (Mango Flex, Mango Plus), ens. (Redakteursnota: Dis 'n oorblyfsel van 1time uit sy begindae, wat ook ten doel gehad het om dinge eenvoudig te hou, byvoorbeeld alles-insluitende pryse terwyl ander lugdienste tariewe gekwoteer het waarby lughawebelasting nie inbegrepe was nie.)

Garage East, die skepper van Skywise se ontwerp, is deur die Switsers geïnspireer wat, so glo hulle, baie goed met minimalistiese ontwerpe is. Die Skywise-logo is gegrond op 'n aangepaste Klavika-lettertipe. Blou is gebruik vanweë Skywise se "kalmerende uitwerking" in sy eie nis tussen sy mededingers, en ook omdat die Sky-lettergreep in Skywise die Engelse woord vir die lug is, wat natuurlik bedags blou is.

Skywise "Less is More" logo

Daar sal aanvanklik twee Boeing 737-300's wees (per huurkoop bekom, maar dis nie in hierdie stadium duidelik van wie nie, ofskoon die deposito's reeds betaal is). "Ons glo die B737-300 is die verstandige keuse vir die minder winsgewende Suid-Afrikaanse mark, met 'n bekostigbare kapitaaluitgawe en doeltreffende brandstofverbruik," sê Rodney James. Daar word beplan om later nog twee vliegtuie by te voeg wat dan Durban, Oos-Londen en Port Elizabeth sal bedien.

Die verf van die vliegtuie is sorgvuldig beplan. "Lyne met 'n hoë kontras" word gebruik om dinge eenvoudig te hou, maar terselfdertyd 'n "skerp beeld" te skep. 'n Minimalistiese ontwerp beteken dat minder tyd en geld nodig is om die vliegtuie te verf (in ooreenstemming met die ideaal by 'n laekoste-lugdiens om minder verlore tyd vir instandhouding en laer kostes te hê sodat dit goedkoper vlugte kan aanbied).

Skywise Airline livery

Ook in die advertensies sal Skywise met sy mededingers gekontrasteer word. Links hieronder is 'n advertensie wat passasiers aanmoedig om Skywise op Tripadvisor te takseer, 3G ten tyde van vlugte te gebruik, hotelverblyf te bespreek en 20 % afslag te kry, reisversekering te bekom, 'n vlugafslagkoepon te wen, ens. ... Daarteenoor staan daar aan die regterkant: "Partykeer is 'n Vlug Al Wat Jy Nodig Het."

Skywise Airline advert

Skywise gaan ook die selfoon aanwend en daarmee eweneens op eenvoud konsentreer. Die funksie om 'n passasier aan 'n vlug te herinner asook 'n skedule sal aan sy selfoon gekoppel word. (Redakteursnota: Dis 'n uitstekende voorneme. Daar was onlangs juis 'n Nigeriese "couchsurfer", 'n vrou, by ons aan huis wat onder meer gereken het dat Suid-Afrikaanse lugdienste beter kan vaar deur passasiers aan vlugte te herinner. "Couchsurfers" is reisigers wat die wêreld vol reis deur by hartlike mense te oornag – glo selfs op hul rusbanke in die sitkamer – pleks van om in somber hotelle te vertoef waar hulle weinig van 'n land se hartklop kan ervaar. Vertel my gerus as jy weet van 'n vindingryke Afrikaanse woord wat vir "couchsurfer" geskep is!)

Beleggers

Onder die buite-beleggers is ’n lugvaartmaatskappy wat in Dubai gestasioneer is en ’n swart ekonomies bemagtigde belegger

(Ons het verskeie mense op reisforums sien verkondig dat hulle nie met Skywise Airline sal vlieg solank ’n Zuma daarby betrokke is nie. Ons wil dit graag duidelik stel dat Edward Zuma met Fastjet South Africa gemoeid is en nie   met Skywise Airline nie)

Ander jong lugdienste wat hul vere regskud om te vlieg

Saam met Skywise Airline wat hom regmaak om sy vlerke te sprei is daar:

  • FlySafair, ’n laekoste-lugdiens wat deur Safair begin word en van die einde van 2013 af vanaf O.R. Tambo na Kaapstad wil vlieg.

  • Pak Africa Aviation, wat 1time Holdings wil koop en hul handelsmerk wil gebruik vir streekvlugte in Afrika.

  • Fastjet, wat gretig is om met Suid-Afrikaanse vlugte te begin.