Bespreek Jou Vlug Nou

Vra hulp - ons help jou graag.

'n Wennaam vir ons Afrikaanse webwerf

RITSGIDS.CO.ZA. Wat 'n raak vat en lekker naam! Ja-nee, dit is wat die Afrikaanse webwerf van South Africa Travel Online genoem is. Die beoordelaars het 'n yslike groot regmerk langs die beskrywende naam geplaas in ons kookwater-wedstryd waarin lesers gevra is om 'n treffende titel vir die webtuiste in te stuur.

Nie dat ons maklik tot die naam kon besluit nie. Ons is omtrent toegegooi deur pittige, selfs briljante, asook verskeie heel komiese naamvoorstelle. Vernuftige deelnemers het hul gedagtes laat dwaal oor omtrent enigiets onder die son en 'n rykdom van name opgetower waarvan die meeste ten minste 'n ernstige tweede kyk werd was. Ekstreme voorstelle het gewissel van 'n lighartige "latwaaimeraai" tot 'n sobere "swerfwerf", selfs van die verhewe naam "horisonne" tot 'n guitige "gatskuur".

Dit spreek vanself dat ons toegewyde span keurders die naamlys moes sif en weer en weer sif in die groot kopkrap wat verskeie sittings geverg het. Uiteindelik, toe al die ander voorstelle langs die pad gesneuwel het, het die wennaam triomfantlik alleen op die eens stampvol naamrol gepryk.

Ritsgids.co.za is as naam gekies omdat dit so byderwets, dinamies en springlewendig klink. Boonop is dit 'n kolskoot-beskrywing van wat die webwerf inderdaad wil wees: 'n gids vir die ritsende geslag Suid-Afrikaanse reisigers in ons 21ste-eeuse op-en-wakker-lewe.

Dat nie een nie maar TWEE deelnemers presies dieselfde wennaam ingestuur het en 'n paar ander deelnemers name bedink het wat taamlik daarmee ooreenstem, spreek dalk ook boekdele oor hoe Afrikaanssprekendes in die land hulle met die aard en doelstellings van hul eie baldadige "toerleier" op die web vereenselwig. Ritsgids.co.za poog om 'n leemte wat lankal reeds bestaan, te vul.

Kompetisie besonderhede:

Die twee weninskrywings het vir 'n heel interessante nuwe verwikkeling gesorg. In die destyds aangekondigde wedstrydreels, sou ons die prys moes toeken aan die persoon wat die heel eerste vorendag gekom het met die wennaam.

Daaraan sou ons nie kon verander nie, maar toe besluit ons om 'n opwindende ekstra by te voeg. Dit is om ook die tweede persoon, wie se "ritsgids"-inskrywing ons later bereik het, met 'n wonderlike tweede prys te beloon. Ons kon die bykomende prys spesiaal vir hierdie mede-uitdinker van die wennaam beding.

Die wenners en hul pryse is dus as volg:

* Liana Becker, wie se inskrywing met die wennaam ons eerste ontvang het, wen die eerste prys: 'n reisbewys ter waarde van R3000 wat as afslag gebruik kan word vir 'n seevaart van haar keuse.

* Merlin van Staden, wie se inskrywing met die wennaam ons later as Liana s'n bereik het, is die tweedeprys-wenner. Hy ontvang 'n soortgelyke reisbewys van R1500.

Hierdie reisbewyse kan gebruik word om die koste te verminder van enige plesiervaart wat die wenners voor die einde van Julie 2012 by ons bespreek. Die wenners word gevra om asseblief met ons in verbinding te tree by reis@ritsgids.co.za en van hul reisbewyse gebruik te maak indien hulle hierdie droomgeleentheid wil benut. Die pryse is nie oordraagbaar nie.

Maar hierby eindig dit steeds nie. Om baie dankie te se aan almal wat so fluks aan die kompetisie deelgeneem en soveel kraakvars of prettige name ingestuur het, voeg ons 'n spesiale vrugtemandjie by hul pakket indien hulle voor die einde van Julie 2012 'n plesiervaart by ons bespreek.

So word dit op die ou end 'n wedstryd waarin almal iets gewen het.

En lank lewe jou eie Ritsgids!