Vlug Pryse

Goedkoop Vlugte in Suid-Afrika

SAL

Skywise

FlySafair

Kulula

Mango

British Airways


Is jy dalk soos ’n wêreldwyse swaeltjie wat gereeld sy vlerke op die lugweë moet sprei ... of straks soos ’n veel minder berese budjie wat net een keer uit sy kou wil breek om vir ’n vlugtige heen-en-weer erens te vlieg?
Hoe ook al, of jy ’n ervare lugreisiger of ’n eenmalige vlieër is, verreweg die meeste mense sal altyd ’n stewige winskopie waardeer sover dit vlugpryse aangaan. Dis waarom ons hierdie onontbeerlike lys topwenke oor goedkoop vlugte in Suid-Afrika saamgestel het, wenke wat bepaald kan help verseker dat jy daardie vliegkaartjie kry wat jou sak sal pas:

  1. Maak gerus gebruik van RitsGids.co.za se nuttige aanlyn-program wat die pryse van lugdienste vergelyk om die goedkoopste lugdiens vir jou beoogde vlug te vind.

  2. Dit is altyd 'n goeie idee om vlugkaartjies te koop sodra jy 'n prys vind waarmeer jy tevrede is, aangesien vliegkaartjie pryse lekker kan wipplank ry. Indien jy dit kan waag om te wag op 'n prys wat moontlik kan daal, is dit altyd 'n goeie opsie, maar daarop moet nooit staatgemaak word nie. Lugrederye verander hul pryse lukraak soos dit hulle sak pas! Hoë pryse is gewoonlik 'n aanduiding daarvan dat daar min sitplekke beskikbaar is maar kan ook wees omdat die lugredery verwag dat die vlug gewild gaan wees. In die laaste geval kan pryse weer daal as dit nie is of as die duurder vlugkaartjies nader aan die vertrek datum steeds nie verkoop is nie.

  3. Teken in deur jou epos-adres op SouthAfrica.TO se adreslys te plaas, so sal u in kennis gestel word wanneer daar ’n spesiale afslag op vlugte is, terwyl u ook ’n gevoel van die heersende pryse sal kry.

  4. Wanneer jy binnelandse vlugte bespreek, bespreek jou heenvlug en terugvlug apart en probeer om vir elkeen afsonderlik die beste prys te vind (’n uitsondering kan wees waar ’n lugredery jou ’n spesiale afslag aanbied op voorwaarde dat jy ook die terugvlug by hulle bespreek, soos die lugdiens Mango vroëer gedoen het).

  5. As jy ’n internasionale vlug bespreek, sorg dat jy jou vliegkaartjies vir die heen-en-weer saam by dieselfde lugdiens kry (dit blyk op die ou end feitlik altyd duurder te wees om die twee skofte van ’n buitelandse vlug afsonderlik te bespreek).

  6. Wanneer jy na of van Johannesburg vlieg, stel vas wat die pryse na/van sowel Johannesburg Lanseria (HLA) as die Johannesburg O.R. Tambo Internasionale Lughawe (JNB) is.

  7. Lugdienste verkoop in die reël hul goedkoopste kaartjies eerste (hulle volhard weliswaar nie altyd met hierdie praktyk nie; wanneer kaartjies byvoorbeeld onverkoop bly, verlaag lugrederye soms hul pryse waardeur ’n mens dan goedkoper vliegkaartjies kan kry). As ’n mens lank voor die tyd bespreek, is dit boonop waarskynliker dat jy kaartjies teen ’n redelike prys sal vind vir vlugte op die presiese datums wanneer jy graag wil vlieg. Die teenoorgestelde hiervan is dat meeste uitverkopings op die nippertjie gehou word, wat beteken dat jy dalk selfs enkele dae voor 'n vlug vertrek ook 'n goedkoop opsie kan kry. Dit gebeur dikwels op internasionale vlugte.

  8. Bly op die hoogte van die olieprys in rande, afhangende van die lugdienste se prysbedingingsmagte, sal wisselings in die randprys van olie na lugrederye se pryse deursypel. As daar dus in die voorafgaande week skerp dalings in die rand-olieprys was, kan dit miskien verstandig wees om ’n bietjie te wag voordat jy jou vliegkaartjie koop. Indien die randprys van olie egter skerp gestyg het, kan jy straks maar opskud om jou kaartjie te bekom.

  9. Op dieselfde trand as die vorige wenk, is dit ook die moeitewerd om die wisselkoers dop te hou aangesien die grootste gedeelte van vliegtuigkaartjie pryse deur lughawebelasting uitgemaak word. Hierdie word belasting word vasgestel in die land se geldeenheid waar die lughawe gelee is en dan omgeskakel na Rande. Selfs 'n klein verskil aan die wisselkoers kan 'n groot prysverskil maak aangesien dit dikwels tussen 50-65% van die prys uitmaak.

  10. Indien moontlik, moet jy buigsaam wees sover dit jou vertrek- en terugkeerdatums aangaan. Wat binnelandse vlugte aanbetref, is dit gewoonlik goedkoper om op ’n Saterdagmiddag te vlieg of laat oggende op weeksdae (wanneer die besigheidsmense klaar gereis het). Vir vlugte na bestemmings buite Suid-Afrika is dit in die reël goedkoper om op Sondae tot Donderdae te vertrek en op Dinsdae tot Donderdae huiswaarts te keer. As jy dit kan verhelp, moenie bespreek vir vlugte op Vrydae, Sondagaande, op die dae voor openbare vakansiedae en voor die begin of einde van skoolvakansies nie (wees ook bedag op plaaslike gebeurtenisse en onthou dat dit duur is om, so maar, voor die Argus-fietstoer ’n vliegtuig na Kaapstad te haal). Augustus is in die algemeen ’n goedkoop maand om binnelands in Suid-Afrika te vlieg.

  11. Indien dit nodig is om ’n bespreking te verander, vergelyk die kostes as ’n mens dit op die internet of per telefoon doen. Ons het per abuis ’n manlike passasier as vroulik aangedui, en die personeel by 1time se oproepsentrum het die vergissing gratis reggestel. Dit sou R90 gekos het om die verandering op die internet aan te bring.

  12. Wanneer jy vlugte by Mango, FlySafair of Kulula bespreek, maak gebruik van hul fasiliteit om na die goedkoopste vlugprys in ’n maand te soek. Mango noem dit “1 Month Low Rates”.

  13. Dui aan dat jy SouthAfricaTO se werf op Facebook “like” en neem deel aan ons kompetisies.

  14. Vergelyk die pryse op al die verskillende webwerwe van lugdienste wat onderlinge reëlings het om mekaar se vliegkaartjies te verkoop. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) verkoop byvoorbeeld Qantas-kaartjies vir vlugte van Johannesburg na Sydney. Gaan na die SAA se webtuiste sowel as die van Qantas, die pryse is nie altyd dieselfde nie. So verkoop Kulula ook kaartjies vir British Airways-vlugte op hul webwerf, self vir minder as wat jy sal betaal indien jy die vlugte op die British Airways-werf bespreek (jy weet dis ’n British Airways-vlug as die vlugnommer vier syfers bevat, byvoorbeeld MN6313). Ons het al gesien dat meer as R1000 op BA-vlugte bespaar kan word deur op Kulula se werfwerf daarvoor te bespreek. Ons het ook die omgekeerde sien gebeur, waar vlugte op die BA-webtuiste goedkoper as op die van Kulula is.

  15. Wanneer jy binnelandse Suid-Afrikaanse vlugte bespreek, vergelyk die pryse van die laeprys-lugdienste (Mango, Kulula en Skywise) , asook die wat die volledige dienste aanbied (British Airways en SAA). 'n Goeie geval daarvan was toe ons gevind het SAA bied goedkoper vlugte Kaap toe net voor die Cape Argus as Mango! Dit is beslis nie die reël nie, maar die moeitewerd aangesien jy meer waarde vir jou geld kan kry.Vir internasionale vlugte, kyk altyd na die pryse van Middel-Oosterse lugrederye soos Etihad, Qatar en Emirates-vlugte aangesien hulle gewoonlik goedkoper is as meer direkte vlugte.

  16. Regstreekse ononderbroke vlugte is die beste. Met elke landing en/of oorstappery iewers vergroot die kanse dat iets verkeerd kan loop (byvoorbeeld dat ’n mens gestrand kan wees weens vertraagde vlugte). Vermy dit om in bepaalde tye van die jaar op plekke oor te bly wat juis dan ongure weerstoestande ondervind (Chicago is byvoorbeeld berug vir sy sneeustorms in die winter).

  17. Kry ’n Kulula-kredietkaart, die “Kulula moolah” wat jy verdien, kan gebruik word om die prys van Kulula-vliegkaartjies te verminder. Vir goedkoper Mango-vlugte, kry ’n Vodacom-kredietkaart. Waar lugdienste programme aanbied vir mense wat dikwels vlieg, teken daarop in.

  18. Na die likwidasie van Nationwide (en meer onlangs die van Velvet Sky) het baie passasiers opgeskeep gesit met kaartjies wat hulle nie kon gebruik nie. Om die risiko te verminder dat so iets met jou gebeur, kan jy jou vliegkaartjies koop met ’n kredietkaart wat gekoppel is aan ’n vrywaring dat die uitreiker van die kaart jou sal vergoed indien die diensverskaffer in gebreke bly om sy kant te bring (dit kan gewoonlik gedoen word deur die opsie te kies om die volle bedrag te betaal voordat die vordering van rente na ’n maand in werking tree). Ongelukkig is Skywise nog nie gelikwideer nie omdat dit dit moeilik maak om geld terug te eis, maar persone wat wel met kredietkaarte betaal het staan 'n groter kans om hulle geld terug te ontvang.

  19. Gebruik die betaal-later-opsie om jouself teen ’n verkeerde keuse te beskerm. Dit gee jou 24 tot 48 uur tyd om na ’n beter tarief te soek en sal keer dat jy jouself agterna sal wil skop as ’n lugdiens skielik met ’n spesiale aanbod vir kaartjies vorendag sou kom.

  20. As jy regtig deperaat is om ’n goedkoop vlug te kry, kan jy altyd probeer vlerksleep by ’n vlieënier of ’n vlugkelnerin! Of, nog beter, gaan werk vir ’n lugdiens, hul personeel kry baie pasellas om die wêreld vol te vlieg.

Sien gerus hierdie wenke om jou volgende vlug meer te geniet!


comments powered by Disqus